
=====================================================================
Gee swaarkry van Oorlog nuwe sin (AV 6:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Gee swaarkry van Oorlog nuwe sin

  Peter Louw haal uit Christoffel Coetzee se roman antwoorde waarom die herdenking van die Anglo-Boereoorlog relevant kan wees vir vandag 
se Afrikaanssprekendes.   By die lees van die bekroonde roman Op soek na generaal Mannetjies Mentz, deur die onlangs oorlede Christoffel 
Coetzee, het 'n aantal vrae by my opgekom: hoekom maak die boek so 'n geweldige indruk; waar kom die huidige belangstelling in die Anglo-
Boereoorlog vandaan; en is hierdie belangstelling wel hoegenaamd relevant vir Afrikaanssprekendes wat hulle in 'n nuwe politieke bedeling 
moet herorinteer?

My eerste behoorlike kennismaking met die Anglo-Boereoorlog het gekom met die opvoering van Die pluimsaad waai ver, N.P. van Wyk Louw se 
kragtige Republiekfeesdrama, in 1966. As sestienjarige skoolseun het ek vir die eerste keer bewus geword van die verwikkeldheid, tragiek, 
sporadiese lafhartigheid en herosme (van die burgers sowel as hul teenstanders) van daardie stryd. Veral die grootse figuur van pres. M.T. 
Steyn van die Vrystaatse Republiek het 'n onvergeetlike indruk op my gemaak. Louw het 'n groot bewondering vir die president gehad, en in 
die stuk word Steyn eintlik voorgehou as 'n soort rolmodel vir die Afrikaner, wat vir Louw blanke sowel as bruin Afrikaanssprekendes 
ingesluit het.

In die stuk gee Pieter, die jong onderwyser en Kaapse rebel, sy indrukke van pres. Steyn soos volg: "En ek het begin voel: hier is 'n nuwe 
soort Afrikaner. Nie net plat Boer, soos ons s nie ... waarom moet 'n Boer plat wees, waarom? Nie net eenvoudig, gelowig sterk, 
aartsvaderlik nie -- laat ek uitpraat! Ek het gevoel: hier het die Afrikaner wysheid geword en intellek; gelyk of bo die Engelse se bestes, 
beskaafd; mr as hulle Milners en ander. Want ook nog goed van hart by die wysheid en verstand. Ag, ek praat seker deurmekaar. Maar so is 
dit nou met my. Dis 'n vreemde, nuwe ding. En dis hiervoor wat ek moet gaan veg."

Maar dit was in die jare sestig, en in die volgende dekades sou ander temas die Afrikaanse politieke en geesteslewe toenemend oorheers: 
rassisme, materialisme, dogmatiese en liefdelose godsdiensbeoefening, seksisme en seksuele onverdraagsaamheid. 'n Mens sou kon s: boosheid 
in enkele van sy verskyningsvorms.

En boosheid, oftewel boosaardige leierskap, is die onderliggende tema van Op soek na generaal Mannetjies Mentz, in teenstelling tot die 
beeld van die deugsame leier wat ons kry in Die pluimsaad waai ver.

Net iets oor die verhaal. Dit gaan hier veral oor die lotgevalle van 'n groep Boerekrygers, 'n "wraakkommando" onder aanvoering van die 
geheimsinnige genl. Mannetjies Mentz, in die berge van die suidoostelike Vrystaat. Die Mentz-manne het hulle dit ten doel gestel om nie net 
krygsgevange burgers uit die hande van die Engelse te bevry nie, maar ook (en veral?) om hendsoppers wreedaardig te vermoor. Mentz, trou 
bygestaan deur sy adjudante, die uitgeslape Voss en die byna dierlike Niemann, en sy kommando is in milit?re terme ongelooflik 
doeltreffend, o.m. omdat hulle doen waarvoor die Boerekrygers destyds juis nie kans gesien het nie: hulle vermoor hul krygsgevangenes.

Opmerklik is die allegoriese elemente in die boek, wat ook uit die naamgewing blyk en bydra tot die universaliteit: Mannetjies Mentz = man, 
mens, elkeman; aunt Soph = sophia = wysheid; Niemann = niemand, maar ook "nieuw man", nuwe mens; Voss = vos, jakkals. Die konflikte wat dan 
ook ontstaan, is tussen menslikheid teenoor onmenslikheid of dierlikheid, wysheid teenoor instink. Uiteindelik word dit 'n soektog na die 
aard van die mens en van boosheid.

Maar bowenal val die taal en styl op: fors, bondig, reguit, en tog sonder dat dit ooit in kruheid degenereer. Daardie hele ou wreld van 
die Oorlog en daarna word lewendig herskep, deur 'n skrywer wat 'n klaarblyklik deeglike kennis van die omgewing en die tydperk uitstekend 
versoen het met 'n hedendaagse perspektief op die ontwikkelingsgang wat die Afrikaner die afgelope eeu moes deurloop. Want al is dit 
fiksie, is die getuienis voor die (weliswaar gebrekkige) Waarheids-en-versoeningskommissie nog vars in die geheue en word dit 'n 
onuitgesproke subteks.

'n Vir my verfrissende aspek was die totale afwesigheid van moralisering. Mentz-hulle se doen en late word intens, maar sonder 
waardeoordele bekyk. Dit is asof die boek wil s: die Mentze, Vosse, Niemanns, Kitcheners en Himmlers sal altyd met ons wees, en as die 
omstandighede gunstig is (soos in 'n tyd van oorlog of ander bedreiging), sal hulle hul kans probeer waarneem.

Deur die Anglo-Boereoorlog as agtergrond vir sy allegorie te kies, voeg Coetzee historiese diepte tot sy allegoriese vertelling toe. En nou 
kan 'n mens vra hoekom hierdie agtergrond vir 'n skrywer byna 'n waarborg is dat hy of sy gelees sal word.

Verklarings wat dikwels gehoor word, is dat mense in 'n tyd van onsekerheid oor die toekoms, teruggryp na die verlede, en veral na 
krisistye in die verlede. Soms, miskien onbewustelik, wil hulle probeer vasstel hoe hul voorouers die krisis destyds gehanteer het; soms 
dien dit as troos om te sien hoe swaar dit toe was.

'n Verdere aspek wat die Anglo-Boereoorlog as ontvlugtingsbelangstelling aantreklik maak, is dat dit in wese 'n Brits-Afrikaanse konflik 
was sodat 'n mens vir 'n rukkie kan ontsnap van die meer aktuele swart-wit-spanning. Nog 'n moontlikheid is dat blanke Afrikaanssprekendes 
tans aan 'n swak kollektiewe selfbeeld ly, en dringend op soek is na heldefigure.

Hierdie verklarings bevat sekerlik elemente van waarheid, maar ek wonder of die nuwe belangstelling nie gesien moet word as deel van 'n 
groter stukrag nie. Die oplewing in die Afrikaanse boek en musiek, die belangstelling in ons Nederlandse wortels, die geesdrif waarmee 
Afrikaanse kunsfeeste bygewoon word -- het ons nie hier te doen met 'n soort hernude kulturele nasionalisme nie? Let wel, nie 'n politieke 
nasionalisme nie -- daarvan het ons vir eers genoeg gehad. Dit gaan in die eerste plek nie oor 'n onrealistiese tuislandgedagte nie, maar 
oor 'n herwaardering van ons erfenis, dus ook die geskiedenis, sonder die albatros van rassisme wat dit so lank moes dra.

En as dit 'n soort nasionalisme is, moet ons nie skaam wees om daardie term te gebruik nie ten spyte van die konnotasies wat dit by baie 
mense gekry het. Nasionalisme, soos Van Wyk Louw dit gesien het, moet altyd onderskei word van sy skaduwee, die chauvinisme. Vir Louw was 
die chauvinisme die aartsvyand van die nasionalisme. Die soort eng en selfverheerlikende "nasionalisme" waarteen jongmense en kunstenaars 
later so fel in opstand gekom het, was in werklikheid chauvinisme.

'n Nie-rassistiese en inklusiewe Afrikanernasionalisme, soos Van Wyk Louw die term gebruik het en wat deel vorm van 'n oorkoepelende Suid-
Afrikanerskap -- dit kan 'n dinamiese riglyn vir die toekoms wees. Dan kry ook die swaarkry en herosme van die Anglo-Boereoorlog nuwe sin. 
Solank ons net vir pres. M.T. Steyn as rolmodel kies. En nie agter 'n Mannetjies Mentz aanhardloop nie. Peter Louw is 'n taalpraktisyn in 
Kaapstad.

Christoffel Coetzee, wat op 19 Julie gesterf het, kort na hy die MNet Boekprys ontvang het en voor 'n toneelopvoering, Generaal Mannetjies 
Mentz, op die Aardklop Fees.

Herdenking: Anglo-Boereoorlog

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av6318.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Oktober 1999 /// Streef na onafhanklikheid van politieke gees. (AV 6:3) 
/// Troukoors (AV 6:3) /// Afrikaans bring die Woord aan Kung-praters (AV 6:3) /// Brief uit Murraysburg (AV 6:3) /// Ode aan my 
leermeesteres (AV 6:3) /// Suksesse met onderwysprojekte (AV 6:3) /// Afrikaansdag treffer by Vista (AV 6:3) /// Nuwe woorde uit anderhalwe 
dekade (AV 6:3) /// Rekenaar help Afrikaansleerders (AV 6:3) /// 'Wat ek wil s, kan in Afrikaans ges word' (AV 6:3) /// 'n Omstrede 
veteraan bieg (AV 6:3) /// Vaardig met tong en hand (AV 6:3) /// Dit kook en prut in die taalpot (AV 6:3) /// Johan Combrink was 'n 
DOENmens (AV 6:3) /// Gevangene (AV 6:3) /// George doen ding vir Afrikaanse reklame (AV 6:3) /// Leeslus het losgekom -- Internet gee 
koopnuus (AV 6:3) /// Gee swaarkry van Oorlog nuwe sin (AV 6:3) /// 'O moedertaal ... jou het ek lief bo alles ...' (AV 6:3) /// Waardeer 
mekaar se verdienstes (AV 6:3) /// Kalklig-dief (AV 6:3) /// IiLwimi wil taalregte en veeltaligheid uitbou (AV 6:3) /// Wenners munt uit 
met raaks-Afrikaans (AV 6:3) /// Baksel in die winter (AV 6:3) ///

